Liewe Anne,
Dit was op 26 Januarie die 75ste herdenking van die bevryding van Auschwitz en die Nederlandse premier, Mark Rutte, het die Jode om verskoning gevra dat sy land destyds te min gedoen het om die Jode hier te beskerm.
Een van die Jode op die herdenking in Amsterdam, Jacques Grishaver (1942) wat as kind ook weggekruip het en voorsitter is van die Nederlandse Auschwitz-komitee, het premier Rutte se verskoning verwelkom. “Ons het 75 jaar op ’n verskoning gewag. Die premier het geskiedenis gemaak. Hy is ons held.” Stem jy saam, Anne? Is destyds te min gedoen om die 102 000 Jode uit Nederland wat in die kampe gesterf het, se lewe te red? Sou Rutte ook vir jou ’n held wees? Of sou jy ook sy motiewe bevraagteken? Dit as politiekery beskou?
Ek het jou dagboek gelees en deur die huis gestap waarin julle vir twee jaar gedurende die Tweede Wêreldoorlog weggekruip het. In ’n eerste inskrywing het jy gewonder: “Wie sal nou belangstel in die ontboesemings van ’n 13-jarige skoolmeisie?” Daarna moes julle “onderduik”, gaan wegkruip vir die Duitsers wat jag gemaak het op alles wat Joods was.
Nie vir een oomblik sou jy jou kon voorstel nie dat jou “ontboesemings” reeds in meer as 70 tale vertaal is, dat die Anne Frank-huis meer as ’n miljoen besoekers per jaar ontvang en dat jou dagboek een van die ikoniese publikasies oor die Joodse volksmoord sou word nie.
Ek stap gereëld by jul wegkruiphuis en die museum daarnaas verby. Daar is altyd mense wat paadjies trap in die vertrekke waar julle so lank weggekruip het, besoekers wat seker maak dat die dood van ses miljoen Jode nooit vergeet sal word nie. Toe ek deur die huis stap, het ek my ook verkyk aan die leë vertrekke en swart geverfde ruite. Dit was aanvanklik vir jou ’n avontuur, maar ’n jaar later vra jy: “Wanneer sal dit ons weer beskore wees om vars lug te ruik?” Jy sou nooit regtig 13 wees nie. Dit alles te wyte aan ’n magshonger leier wat besluit het jy en jou volksgenote is vir hom ’n bedreiging.
Jou storie is sekerlik nie uniek nie – derduisende Jode moes vlug, wegkruip of die gruwels van die kampe beleef. Jou boek en dié van ander Joodse “onderduikers” het egter ’n gesig gegee aan een van die grootste tragedies in menseheugenis. Ek het baie wys geword oor die gees van daardie tyd terwyl ek jou dagboek gelees het, maar die skoon blad ná die inskrywing op 1 Augustus 1944 praat die hardste. Dít is die deel wat maak dat jy “voortleef, selfs ná jou dood”.
Sal die Anne Frank wat op 15 in die Bergen-Belsen-kamp aan tifus dood is, maar wat vandag nog voortleef, ook dink Mark Rutte se verskoning is te min, te laat?