spectrum

‘Waar woorde, brokkies en stukkies in plek val’

2 maart 2020
Auteur: Joran Backx
Foto:

Delen:

Onlangs werkte Kirby van der Merwe ‘in stilte en afsondering’ aan het manuscript van zijn nieuwe roman in het schrijvershuis in Calvinia. Behalve die ene, memorabele dag waarop de finale van de Wereldkampioenschappen rugby tussen Engeland en Zuid-Afrika plaatsvond:

Saterdagoggend, 2 November verlede jaar. Ek stap Calvinia Hotel toe. Elfuur skop die rugby-wêreldbekereinstryd af.  Suid-Afrika en Engeland en ek gaan dit nie mis nie. Die hotel is binne stapafstand van die Karoo Boekehuis waar ek sedert middel Oktober werk aan die manuskrip van my nuwe roman. Die boekehuis is geleë in die stil, afgesonderde historiese deel van Calvinia en is op 14 Augustus 1993 deur Dr. Anton Rupert geopen. Volgens die gedenkplaat langs die voordeur word hierdie huis van ongeveer 1855 deur die Karoo Boeke Trust Hantam gebruik om boeke deur skrywers van en oor die Karoo te huisves. Die boekehuis word bestuur deur die befaamde Coetzee-egpaar Erwin en Alta. 

Maar wêreldrugbykoors hang in die lug, dit sypel tot in die Boekehuis se stilte. Die opwinding, afwagting is voelbaar. Die plek is bankvas agter die Springbokspan, agter Suid-Afrika. Dis ’n see van groen truie en landvlae.  Op pad hotel toe, glip ek in by die kerkbasaar oorkant die straat vir basaarpoeding, ’n styrofoamhouertjie vol rooi-en-groen jellie en vla en ’n plastieklepeltjie. Ek stap in by die hotel se kroeg, gepak met mense met hul oë op die televisiestelle teen die mure en gaan druk in tussen die manne by die toonbank. Ek sit en eet my poeding met ’n plastieklepeltjie en sluk dit af met Coke wat die kroegman voor my neerplak.       

Ver agter by ‘n tafel, sit ’n toergroep bejaarde Engelse op reis deur die Karoo. Hulle is emosieloos terwyl die Springbokke die Engelse kafdraf, te bang, dink ek, om die aandag op hulle te vestig, want meer as ’n eeu na die Anglo-Boereoorlog is van die boere nog bitter oor die Engelse se behandeling van hul voorouers tydens dié oorlog. In die chaos na die eindfluitjie blaas, glip hulle ongesiens uit en spring in hul toerbussie en maak hulle uit die voete.

Voor die hotel staan rygoed die straat vol: plaasbakkies, motors, toerbusse, vragmotors, motorfietse van ’n klub wat grondpaaie tussen die Kaap en Johannesburg aandurf. En ’n vintage swart Ferrari 308 – met ’n dakrak gepak met ’n tent, kampstoel, jogamat, petrolkanne en twee spreiligte – vol stof van waar ook al hy in die veld rondgejaag het.            

Af in die straat uit die township kom ’n konvooi rygoed. Die bestuurders lê op die toeters en die passasiers gil en skreeu en gaan mal oor die Springbokke-oorwinning.  Ondersteun julle die Springbokke? vra ek ’n plaaswerker agter op ’n plaasbakkie. Hy waai sy Springbokvlag as antwoord.            

Die geheue is kort, dog ek, of uitgewis. Een van Calvinia se bekendste inwoners, Abraham Esau is tydens die Anglo-boereoorlog in 1901 deur die boerekommando van Calvinia hier gevange geneem, tussen twee perde vasgemaak en tot buite die dorp gesleep, met swepe geslaan en doodgeskiet vir sy hulp aan die Engelse.

My debuutroman Klapperhaar slaap nie stil nie (1999) het byna vanself gebeur. Maklik, vanselfsprekend. Die opvolg. . . moeilik met al die gepaardgaande wroegings: Klapperhaar was beginner’s luck van ’n eenboek-skrywer. In my onderste laai lê aborsies, ’n roman in drie dele en ’n gangbare novella haastig kort na die debuut geskryf. En dis waar hulle gaan bly.

My skryfwerk is telkens op die agtergrond geskuif, moes terugstaan vir my werk as artikel- en profielskrywer vir die tydskrifte Insig en Huisgenoot en die dagblad Beeld. Én deur my vertaalwerk. Ek het verskeie romans van ander skrywers uit Engels na Afrikaans vertaal. Radiodramas geskryf.

Elke skrywer wroeg op ’n eiesoortige manier met die lewe, met ’n manuskrip. Hierdie manuskrip is in real time.  Daarom verouder dit elke keer as die skryfwerk vir ’n tyd onderbreek word. Dalk is ’n teks soos dié meer verwikkeld as ’n historiese teks. Ek het al die navorsing gedoen, teks en hoofstukke geskryf, maar het tyd en stilte in Calvinia nodige gehad om dit tot volwaardige manuskrip af te rond.  Dit het in die stilte en afsondering van die boekehuis gebeur, die wonder, die oomblik van helderheid waar woorde, brokkies en stukkies skielik in plek val.

Meer nieuws

18 maart 2020, Intro
Editie Maart
Het Spectrum is ons online magazine, exclusief voro vrienden van het huis! In het Spectrum worden recente culturele, politieke en economische ontwikkelingen in Zuid-Afrika besproken. Zuid-Afrika Spectrum verschijnt vier keer per jaar. Deze maand speciale hoofdredacteur: Jamy van Baarsel.
11 maart 2020, Journalist
Journalist in het Huis: Siska Martin
Sinds 2016 verblijven er journalisten van het Zuid-Afrikaanse Media24 op de Keizersgracht.
2 maart 2020, Beeldbank
Berichten van het Studiefonds
Sinds 2016 verblijven er journalisten van het Zuid-Afrikaanse Media24 op de Keizersgracht.

Bezoekadres

Keizersgracht 141-C
1015 CK
Amsterdam

020-6249318
info@zuidafrikahuis.nl

Openingstijden

N.B. Van 23 december 2019
t/m 3 januari 2020 zijn wij
gesloten i.v.m. onze wintersluiting

Maandag, dinsdag en
donderdag van 10 tot 16 uur

Vragen en afspraken

Neem contact op

Volg ons